All Blacks

Nieu-Seeland
Unie Nieu-Seeland Rugby (NZR)
Bynaam(e) All Blacks
Embleem Varingblaar
Afrigter(s) Vlag van Nieu-Seeland Scott Robertson (sedert 2024)
Kaptein(s) Sam Cane
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Sam Whitelock (153)[1][2]
Meeste toetspunte Dan Carter (1598)[3][4]
Meeste drieë Doug Howlett (49)[5][6]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Australië Australië 3–22 Nieu-Seeland Vlag van Nieu-Seeland
(Sydney, Australië; 15 Augustus 1903)
Grootste oorwinning
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 145–17 Japan Vlag van Japan
(Bloemfontein, Suid-Afrika; 4 Junie 1995)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 7–35 Suid-Afrika Vlag van Suid-Afrika
(Londen, Engeland; 25 Augustus 2023)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Kampioen in 1987, 2011 en 2015
Amptelike webwerf
www.allblacks.com
Unie webwerf
www.nzrugby.co.nz

Die All Blacks is die nasionale rugbyspan wat Nieu-Seeland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby is Nieu-Seeland se nasionale sport en die All Blacks is ’n gedugte krag in internasionale rugby met ’n wenrekord teen al die ander lande. Nieu-Seeland is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Samoa, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[7]

Sy belangrikste internasionale verskyning het die All Blacks tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi. In 1987 was Nieu-Seeland saam met Australië die gasheer vir die eerste Rugbywêreldbeker wat die All Blacks gewen het. Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het die All Blacks die eindstryd gehaal, maar is deur die gasheer in ekstra tyd met 15–12 verslaan. Die volgende verskyning in die eindstryd het die All Blacks tydens die Rugbywêreldbeker 2011 tuis gemaak, toe hulle Frankryk naelskraap met 8–7 verslaan het. Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 het Nieu-Seeland as eerste span daarin geslaag om die Webb Ellis-beker te verdedig, toe hulle die Wallabies geklop het. Daarmee het die All Blacks die eerste nasionale rugbyspan geword om die trofee drie keer omhoog te hou, ’n prestasie wat later deur die Springbokke geëwenaar sou word. Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 het die All Blacks die eindstryd vir ’n vyfde keer gehaal, maar is deur die Springbokke naelskraap met 12–11 geklop. Die All Blacks speel jaarliks teen die Australiese Wallabies, die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap, voorheen die Drienasiesreeks, waartydens hulle ook om die Bledisloebeker teen Australië en die Vryheidsbeker teen Suid-Afrika meeding. Die All Blacks het die Drienasiesreeks en die Rugbykampioenskap reeds 20 keer in die toernooi se 27 jaar bestaan gewen en is die huidige Bledisloebeker- asook Vryheidsbekerhouer.

Die span het vir die eerste keer in 1882 ’n internasionale wedstryd gespeel teen die Nieu-Suid-Walliese Waratahs, en het hulle eerste toetswedstryd in 1903 gespeel: ’n oorwinning teen Australië. Dit is gevolg deur ’n toer na die Noordelike Halfrond in 1905 waartydens die span slegs teen Wallis in Cardiff verloor het. Tydens hulle 1905-toer het die All Blacks slegs swart gedra, behalwe vir die silwervaring; die “All Black”-naam dateer uit dié tydperk. Die All Blacks het hulle eerste reeksoorwinning teen hul “aartsvyande Suid-Afrika” (die Springbokke) in Nieu-Seeland in 1956 behaal. ’n Dekade later het hulle hul langste segetog behaal deur sewentien toetse tussen 1965 en 1970 te wen. Die Britse en Ierse Leeus het hulle enigste reeksoorwinning oor die All Blacks in 1971 behaal, maar sewe jaar later sou die All Blacks hulle eerste Grand Slam behaal (oorwinnings oor Engeland, Ierland, Skotland en Wallis tydens dieselfde toer). Die All Blacks sou nog drie ander keer ’n Grand Slam behaal (in 2005, 2008 en 2010). Die 1981-Springboktoer na Nieu-Seeland het grootskaalse burgerlike onrus veroorsaak as gevolg van proteste teen die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid. Nieu-Seeland het in 1996 in post-apartheid Suid-Afrika vir die eerste keer daarin geslaag om ’n reeksoorwinning oor die Springbokke in Suid-Afrika te behaal.

Die vroeë Nieu-Seelandse nasionale rugbydrag het bestaan uit ’n swart trui met ’n silwervaring en wit broeke. Om die teenstander te intimideer en hulleself te motiveer voer die All Blacks tradisioneel ’n haka (’n Māori-oorlogsdans) voor elke wedstryd uit. Tradisioneel word Te Rauparaha se Ka Mate haka uitgevoer, maar sedert 2005 word Kapa o Pango, ’n aangepaste weergawe van die All Blacks se 1924-haka, Kia Whaka-ngawari, soms ook gebruik. Hulle is tans (Oktober 2023) derde op Wêreldrugby se wêreldranglys[8] en is in 2005, 2006, 2008, 2010, 2011, 2012, 2013, 2014, 2015 en 2016 deur Wêreldrugby as “span van die jaar” aangewys. 19 voormalige All Blacks is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

  1. (en) "All Blacks that have played 50 or more tests". All Blacks. Besoek op 1 November 2023.
  2. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  3. (en) "All Black Test Match point scorers". All Blacks. Besoek op 1 November 2023.
  4. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  5. (en) "Most tries in Test matches". All Blacks. Besoek op 1 November 2023.
  6. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  7. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 14 November 2007.
  8. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 1 November 2023.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search